Monday, June 22, 2015

Week vier van 22 Junie



Onder Konstruksie


Heelwat een tot een gesprekke en dit werk goed mits die agtergrond lawaai onder beheer is. Hoekom speel hulle musiek in Restaurante? 

Saterdag die mooi ding gebeur wat weer die eeue oue beginsel illustreer. Jy is nie so oulik vir wat jy het nie, jy is juis goed omdat jy iets verloor het. Edison, Beethoven en daardie dom ou wat nie kon praat nie, dink sy naam was Albert of so iets. Sy van was Einstein as ek reg is? 

By die Toastmasters word die sprekers koelbloedig evalueer volgens 'n vreeslike raamwerk. Ek doen dit gereeld en gaan sit en die verste hoek om soveel moontlik te sukkel. Jy moet dan voor almal gaan staan en die spreker afransel op 'n mooi manier. 

Elke keer is die terugvoer te goed en nou die toekenning vir die hele jaar. Gee mens trane ... juis omdat ek nie kan nie.



Tuesday, June 16, 2015

Week drie vanaf 15 Junie


Genooi om na Ernest en Young se jong outjies te gaan mee praat oor kommunikasie. Donderdag net na werk. Dit word deur hulle Toastmasters klub

gedoen.


Baie maatskappye doen dit so. Sanlam, Telkom, WNNR, Visa, Reserwe Bank ... 

Moet dan ook die volledige evaluasie van 'n lid se finale toespraak doen. Die ou kry dan vyftien minute waar alles moet bymekaar kom. Tipies neem dit so twee jaar om hierby uit te kom. Nagmerrie!

Die persoon moet die gehoor inspireer en veral emosies en behoeftes uitlig deur stories, drama en aanhalings te gebruik. Die evalueerder moet dan in 2-3 minute dit in 'n netjiese aanbieding voor almal terugvoer gee, wel foute uitlig, maar veral die persoon goed laat voel en lus om verder te gaan.

Jy moet kyk na die onderwerp, begrip vir emosie, positiewe aanslag, storie gebruik, beelde bou, lyftaal en inspirerend wees. In kort, hier moet jy perfek kan luister ...

***


Ons oom sterf vreedsaam. 93 Jaar oud en 'n sagmoedige mens wat ons so sal onthou. Uniek vir 'n prokureur! 


Die kerk sit vol mense en die dominee praat stadig met spasies tussen die woorde. Kan hom en sy seun, ook 'n dominee,  se huldeblyke mooi volg.

Toe kom die uitdaging met tee-en-koekies na die tyd. Almal bymekaar, vriende, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Almal praat tegelyk en bekendes en vreemdes kom om te kom groet en uit te vra.

***

Dit was altyd die grootste nagmerrie, maar tog kon dit werk en ons kon ander kant mooi uitkom. Heerlike toets!

Elke dag sit ons met die leeslys en die dineg van ene Meneer Botha. Sy lees en ek herhaal. Dit lyk asof dit werk. nou ook dit in Engels doen.

Thursday, June 11, 2015

Die tweede week van 8 Julie

Dinge begin sin maak!



Die harde klanke soveel beter na ons instelling. Kan lekker gesprekke volg. Die groot Partners for Possibility sessie bygewoon en vir twee ure lank na etlike toesprake oor luidsprekers luister en kon dit mooi volg. 


Bekende mense se stemme werk al lekker, alhoewel alles nog blikkerig klink.

Het die lang vorm ingevul oor vele klanke gehoor en kon eintlik by amper alles "ja!" antwoord. Van voetstappe tot verby gaande Harley Davidsons!

Donderdag het ons toe by Tygerberg verder gewerk en sy het weer met aandag en empatie die toets en verstellings gedoen. Weg met 'n dik pak huiswerk wat langs sinne vervat om te hoor en weer te herhaal. Die evaluering van die apparaat se gebuik oor tien dae wys twaalf ure per dag. Daar is egter lang stiltes, werk maar heeldag voor die rekenaar. Sal nou 'n blêrende radio iewers aan sit. Die sessies is moeilik en vermoeiend. Haar sagte benadering maak egter op vir alles ...

Donderdag ook Toastmasters en weer as evalueerder geboek. Al sestien jaar lid. Het 'n dikbekkie introvert geleer om skares toe te spreek sonder om te bloos. Seker al twee honderd geevalueerde toesprake hier gedoen. Dit het gelei tot gradedagtoesprake, en dosyne korporatiewe aanbiedings plus twaalf jaar lank MBA lektor poste.  Dis jou wonderlikste persoonlike geskenk, doen dit nou! 

Jy het 'n hele vorm om in te vul van 'n toespraak van 'n lid en moet dan voor almal gaan staan en die evaluering gee. Geen uitkomkans en die perfekte leer skool. Dit gebeur twee keer per maand. Toe heel agter so twintig meter van die podium gaan sit om enige liplees te vermy. Daar is geen luidsprekers. 

So veertig lede en besoekers het luidrugtig gekom, glase vol wyn om die lawaai aan te vuur. Afrikaans en sy verskeie vorme (Noordelike Voorstede, Vlakte, Weskus en Transvaals), Xhosa, plaaslike Engelse plus ene met 'n Oxford aksent. Drie Duitsers. Almal moet Engels praat en woeste aksente. 'n Nagmerrie!

Ons gaan deur die program en is evalueerder van 'n voorbereide toespraak. Afrikaanse ou. Moet alles evalueer, op 'n vorm invul en dan 'n twee minute evaluerings verslag voor almal verkondig.

Dit het heerlik gewerk!! Dis grootste toets van dat ons op 'n suksesvolle pad is.

Dan die Gym, hier is dit groot lawaai en meestal weinig wol. Luide ritmiese musiek met gure en ongure karakters wat hop, trek, slaan en belangrik probeer lyk. Darem gewone ouens ook wat stil bly en trap of draf. Hier gaan dit oor diversiteit van klank en om die irretasie te kan hanteer. Ons kom al reg!







Die grootste uitdaging nou is om die kleintjies mooi te kan volg. Duvan, Mathys en Ingke (op die foto) werk al mooi want hulle praat stadig. Grethe en Rethe wat vinnig en baie praat sal seker nog tyd neem!

Grethe (7) kan lekker lees en sy sal die leeueaandeel van die lees, hoor en herhaal oefening moet hanteer. Sies tog!



Flieks was altyd 'n nagmerrie met Afrikaanse flieks en hul onderskrifte die redding. Saterdag was dit "Jurassic Park" wat alle eise gestel het! Kom di emeest evan die diallog volg ondaks die surroundsound lawaai.

En Sondag met Deon Meyer se "Seun". Hier was onderskrifte, maar as jy diep in jou stoel sit kan jy dit uitsny. Kon ook die draad mooi volg.

Ons werk saam deur die lang lys luister en herhaal. Struikel hier en daar, maar dit werk oor die algemeen.

Monday, June 8, 2015

Na een week


Dis is Maandag 1 Junie en ons is terug in Tygerberg. Klomp boksies met proppe, kabels en drade wat honderde duisende kos. Versekering aangepas en te kan betaal as iets verkeerd loop.

Sy wys ons alles en sit die dingetjie aan. 'n Gekrabbel en dis al ...

Die eerste ervarings was verwarrend. Klanke bloot ‘n gekrap en ‘n ge-tjir. Na so ‘n halwe dag begin die letter “S” hoorbaar word en toe enige kragtige drieletter woord. Kroegtaal net die ding!

Teen die aand my eie stem kon ontrafel en by die tweede dag die woorde van musiek kon volg en gesprekke stadig maar seker duidelik word. Kyk nou na 7e Laan (mag maar kommin wees!) met ‘n papier op die skerm geplak om die onderskrifte te blok!



Die mooiste was dat na seker tien jaar wat ek altyd aan Kasper se nek moes voel of hy spin, hy gister op my spring en luidrugtig, “Durrrr, Durrrr”!

Donderdag weer verder die instellings verfyn. Gesprekke word al makliker selfs al is dit oor 'n mikrofoon.

Die telefoon nog glad nie, maar daar is ook maniere met Bluetooth.

Sondag na die Laerskool Eistedfodd in Stellenbosch. Skerp klanke werk mooi. Die klavier, tromme en ook die harp. 

Viool, Tjello, blokfluit en klarinet ongelukkig vaag en dof. 

As die kore sing is dit nogal mooi en dit werk! Durbanville Laerskool onder die septer van Meneer Nortier die sterre ... al weer!


Nou elke week twee keer na die hospitaal gaan vir die fyner instellings. Jou mond hang oop as jy die tegnologie agter dit sien. In die Wes-Kaap alleen is al honderde stokdowe mense so ‘n nuwe lewe in gehelp. Baie van hulle kinders onder vyf jaar oud en jy word stil van die genade en vreugde wat die wetenskap vir hulle kon gee.


Die pad was moeilik, veral vir my gesin, maar ons wen, hoofsaaklik omdat daar mense soos jy is wat agter alles staan en nooit opgee nie.

Saturday, June 6, 2015

Operasie storie

Op die paadjie van die lewe kom daar uitdagings, soms maklik, soms moeilik en dikwels wat ons bang maak. Dan is dit ware vriende naby ons al die verskil maak. Ook die keer was dit weer oortreffend.
Baie dankie vir jou belangstelling, oproepe en boodskappe, die Cadburies en Toblerone, die tydskrifte en mooi woorde, maar veral omdat jy ook gebid het. Ons sal dit altyd onthou.
Toe die groot treetjie om weer te kan hoor. Hulle boor letterlik in jou kop en plant ragfyn draadjies in. Alles neem tot drie ure.
Wonderlike mense het hul hele huis vir ons die week geskenk hier in die Strand. Reg langs die hospitaal!
Dan was daar die wat die paadjie self moes loop, verhale van kindersiektes en soos ek die oorlog en sy gevolge. Hulle vertellings en ervaringe is prysloos kosbaar.
Dan is daar mos net twee plekke met die woord “Die” in sy naam. Hulle twee kom toe Sondag van Die Paarl al die pad na Die Strand en neem ons vir ‘n luukse noenmaal in ‘n grênd restaurant en ure se stories maak. Alles net om my moed in te praat …
Wat gebeur het is oorlogskade en dan nog tien jaar in die Polisie. Toe kom ‘n virus laas jaar en eet die senuwee op. Stokdoof in my goeie oor. Nou sit hulle dun draadjies in die koglea, daai slakvormige dingetjie wat klank verstaan en sny die oorskulp uit. Die gebeur ook met kinders en kindersiektes … Beethoven en Edison was bykans stokdoof met waterpokkies en skarlakenkoors die sondebokke.
Maandag toe daar gekom weer baie vorms en voorlesings deur bekwame susters en ‘n besoek van die sjirurg, wat weer van oor tot oor lag. Toe die net so ‘n vriendelike narkotiseur (Het die ou al iewers gesien, weet dit net!) wat net een ding wil weet, “Wat rook jy en hoeveel per dag?” Maak nogal sin as jy dink dat die hospitaal, Mediclinic, aan ‘n sigaretbesigheid behoort!
Hulle trek mens dan so ‘n grysvaal jas aan en laai jou op ‘n trollie. Die operasiesaal het tegnologie genoeg om op Mars te kan land en ‘n halfdosyn susters skarrel heen en weer en weet presies wat hulle doen. Waarnemers is ook op pad om die arme proefkonyn te aanskou.
Dit is dan wat die waarheid hom voordoen toe jy dit die minste verwag. Die narkotiseur van net nou het ‘n helder blou kopdoek met stoute prentjies op! Almal lag agter hul hande. Die waarheid kom net daar op die lappe dit kan mos net een ou wees … Koos Kombuis!
Hy draai aan knoppies en grafieke flits oor skerms en alles verdof … drie ure later sit die susters heerlik en stories maak langs die bed terwyl ‘n ou probeer slaap. Kry mens reg vir ‘n lang nag in die kille plek. Ons vertel toe vir die suster dat ons reg langsaan woon.
“Nou hoekom gaan jy nie net huis toe nie?” vra sy hoopvol om die nagskof af te kry.
Min aanmoediging nodig en net daar in die rystoel na die voordeur! Alles vir eers oor en na amper ‘n dag se vastyd lyk enigiets te aanloklik. Nou die slegte nuus op die pil boksie, hulle kannie ernstig wees nie! Hier in die hartland van goeie Cabernet staan dit swart op wit, ag nee man, “Geen alkohol vir die volgende vyf dae!”
Die grootste skok was dat die sjirurg linkshandig is! Dink net hoe meestervol moet hy wees om met die regshandige gereedskap te moet sukkel!
Allerhande koplees fotos gedoen en oor vier weke skakel hulle eers alles aan om dan weer te kan hoor, Beethoven het dit geskryf na veertien jaar al heeltemal doof … “Die neënde Simfonie.”

Ons is so dankbaar vir die genade, dankbaar vir vriende soos julle. Die personeel van die sjirurg wat elke admin treetjie maklik gemaak het, die een-van-‘n-soort Stellenboschse audioloog wat alles raakgesien het, haar eweknie in Tygerberg wat net een woord voor is, wêreldklas!
‘n Wonder vrou wat met alles moet saamleef en saam die lang pad loop … want vanoggend hang die wit Suid-Oos lieflik voor die opkomende son, die toneel iets vir Picasso, Van Gogh en Rembrandt om oorboord mee te gaan.

Hier in die mooiste amfiteater op aarde van Helderberg tot Hangklip staan dit staan dit duidelik geskryf in die wolke, “Ek slaan my oë op na die berge …”


Ons is net akteurs

“Ag nee, net nie dit nie,” sug ons toe die brief in die bruin koevert opdaag. Ons gaan sit toe daardie Saterdag, dit was in 1990, in die majoor se kantoor gereed vir die slegte nuus.

“Here en dames,” begin Majoor Vermeulen moedeloos, “Die hele lot is weer op my nek, die keer uit die kantoor van die minister. Julle ouens moet asseblief aan iets dink, dit kan net nie so aangaan nie!”

So liewe leser dit werk nou so, elke Saterdagaand rinkink vele studente in die Pirates Cove so sewe kilometer van die manskoshuise in Lynnwoodweg. Net om daarna met groot lawaai en huilende bande die terugtog aan te pak, soms met rampspoedige gevolge. Almal kla omdat ons al weer niks doen en so onbevoeg is.

Wat jy nou ook sal moet verstaan is dat in daardie tyd, almal wat saak maak in Lynnwood bly. Jy sien hulle vandag nog op Pensioenaris Dinsdag in Super Spar agter die winkelwaentjies skuifel.

Al wat die gewese belangrike ooms oor het om te wys staan blink en netjies in die parkeerterrein, die ’94 C230 wat met die laaste pakket geldjies na sy vroeë uittrede gekoop is. Die ooms, gewese adjunk direkteurgenerale, bestuurders van die oorlede landbourade almal daardie tyd ʼn direkte lyn na die Uniegebou gehad.

Wat jy verder moet weet is dat die genoemde baldadige studente weer nabye familie van dieselfde belangrike karakters is. So daar het jy dit, verloor en verloor en die arme konstabels, sersante en offisiere van die SAP is dom en onbevoeg ... al weer!

Die majoor kyk ons diep in ons oë en smeek op ʼn oplossing. Ons is lede van die reserwemag en ons doen ander werk, maar naweke help ons die wa deur die drif trek. Betaling daaroor nogal ruim: R0.00!

Pieter, ons luitenant en ʼn elektroniese ingenieur sê toe, “Ouens kom ons lys bietjie wie en wat ons is.”

Wel jy sal my nou nie glo nie. Sersant Chris, is ʼn dokter. Guido en Frans is ingenieurs met swart gordels in Karate, ou dom Konstabel Sakkie het twee doktorsgrade in fisika terwyl Johan ʼn maar net 'n advokaat is. Annette weer se man is vise president van die Reserwe Bank ... so hou die lys aan. Ons buig toe krom en die meesterplan word gebore.

Daai Saterdagaand, so van tienuur af, blokkeer ons Lynnwoodweg. Die eerste slagoffer word afgetrek, dis Guido en Frans se werk wat enige teenstand met ʼn stampie op die regte plek begroet. Hulle sleep die arme ou tot in die vangwa. Daar is ʼn netjiese bed en Chris staan daar in volle uniform met ʼn stetoskoop om sy nek. Annette weer is soos 'n suster in die ongevalle eenheid aangetrek.

“Lê ou en gou ook!” sis Guido.

Voor die slagoffer kan dink, sink die naald in sy polsslagaar en 25 milliliter donker rooi vloeistof beland in ons houertjie, netjies genommer. Toe volg sy vingerafdrukke.

“Julle kan dit nie doen nie!” gil hy, “my pa ken die minister en hy sal julle kom ophel!”

Vir sy geskrou nog ʼn pynlike houtjie van Guido en hy strompel na sy kar van waar sy verwilderde vriende alles moet aanskou. Ons laat nog twintig aan die pen ry. Natuurlik sprei die slegte nuus terug na die Pirates Cove en die manskoshuise. Koos die kroegman, sit die musiek af, “Ouens hoor hier, die Ore sit in Lynnwoodweg, julle moet oor Atterbury terug ry!”

Sakkie sit in die hoek met ʼn Black Label in sy een hand en fluister in sy radio, “Manne, skuif gou Atterbury toe!"

Die slagting duur voort en ons herhaal die pret nog 3 naweke. Geen vorms, bloed analises, polisiesel aanhoudings, krapperige staatsaanklaers of hofsake terwyl dronkbestuur in Lynnwood val met 90%!

Nou dierbare leser weet ek jy sal my vra, “Nou wat maak julle toe met al daai bloed?”

Wel, daar is lang wette daaroor mediese afval, maar niks wat ons nie twee uur die oggend, net daar op die hoek van Atterbury en Lynnwood nie kan reg maak nie ... al die bloed en die houers verdamp in die winterlug danksy ʼn welige kampvuurtjie!

Lekker slaap en ry tog veilig ...


Erkenning aan William Shakespeare, “All the world's a stage, and we are just the players”.

Lewensredding



Dis die vroëe oggend ure. Ons rapsheet uiteindelik afgewerk en ek en Louis, my maat op vanaand se skof ry stadig op en af deur die verlate strate. Dit isDesember, die tyd wat ons die bangste voor is want tussen die bome gloei soms reflektors.

Ook vannag weer so, “Ag nee, net nie dit nie!”

Ons stop en stap versigtig nader, die tuinslang en die handdoek in die venster ... ons raak paniekerig. Sy leef nog, die enjin nog nie aangeskakel. Ons lig deur die venster, daar is trane op die 19 jarige se wange

Ek klop aan die venster, “Maak asseblief oop!

“Fok jou!!” gil sy terug.

Louis sê, “Jy kan maar sê ‘fok jou’, maar ons gaan nou op jou bonnet sit en rook tot dat jy oopmaak.”

Ons haal ons pette af, steek ʼn sigaretjie aan en wag. Die ruit gaan effens oop.

“Nou wat het gebeur?” vra ek.

“Fokkol met jou te doen!” skree sy terug.

“Het jou kêrel jou gelos?” vra Louis.

“Ja, maar fok jou weer ʼn keer!”

“Toe ek so oud soos jy was het my meisie my mos net so gelos toe ek Langebaan toe moes gaan ... ”

Die ruit draai verder af, “Rêrig en toe?”

“Stupid vraag, ek het gesuip natuurlik, gesuip met net een doel om my self vrek te drink”

“En toe?"

“Wel, een aand, lê ek net in my bed, toe klop iemand aan die deur. Dit was ons baas. Hy kom sit by my, hy het my hand gevat, ‘Ou Louis, jy moet nou slaap, net môre ry ek en jy saam en die keer gaan jy voor sit en alles doen!”

Toe ons daardie middag terug kom, het al die ouens en die mechanics hulle pette in die lug gegooi en net vir my ge-tjeer!”

Sy vra, “Wat doen jy dan nou?”

“Ek werk af en toe vir die polisie, maar daar is vandag 350 mense wat graag New York toe wil gaan. Ek gaan hulle neem, ek gaan weer heel voor sit ...”

Terwyl hulle praat, neem ek die tuinslang, die handdoeke en bêre in ons bakkie. “Kom, sit jy nou daar, Louis sal bestuur, ons moet jou na jou mamma toe neem, ek volg met die bakkie.”

By die huis brand al die ligte, ʼn man en vrou hardloop uit, rasend van bekommernis. Al vyf van ons staan styf teen mekaar, ons trane loop.

Die mamma kyk op, “Kyk net daar hoe mooi!”


Ver weg oor die Magaliesberg wys die eerste strale van ʼn nuwe dag ...

Vinniger as Arende was hulle

“Bakboord 35 grade ... stuurboord 25 grade ...”, roep luitenant Derrick Page die instruksies aan ons.

In die stuurkajuit sit kaptein le Roux, silwer vlerkies op sy linker bors, wat ons almal vandag veilig ons bestemming moet uitbring. Ons is bemanningslede van 35 Eskader, SA Lugmag. Ons is nie sissies nie, ons kan enigiets doen!

Elkeen hou ʼn klipbord vas waar ons die voorwerpe wat deur die luitenant vir ons uitwys word netjies nommer en klassifisseer. Die lokaliteit, hoek van Voortrekkerweg en Selbournestraat, Goodwood! Die onderwerpe geklasifisseer in terme van haar lengte, been vorm, rondings van voor en rondings van agter, blondheid of nie en natuurlik die gesiggie!

Ons is op pad huis toe in ons bus na ’n lang dag van oorlogvoering op die DF Malan lughawe, Kaapstad, in ons reuse Shackleton bomwerpers. Ons is MANNE! Om hier te kom ʼn lang pad en laat ek jou bietjie vertel:

Dit is ses maande vroëer, die trein stop in Pretoria stasie, ou Brinkie klim bang-bang af. Die man in blou geklee kom beleefd nader, “Meneer, is u dalk ʼn lugmag dienspligtige?”

“Ja, meneer,” antwoord Brinkie.

“Nou wat de fok staan jy nog hier? Ek is geen meneer nie, ek is ʼn korporaal! Kry jou donnerse gat in rat en kom in daai Bedford, en fokken gou ook!"

Brinkie sleep sy bagasie agter hom aan en klim saam met nog dertig ander verwilderde 18 jariges in die Bedford. Drie maande van fisiese en emosionele hel volg. Dril en hardloop, polish ʼn spit, maar stukkie vir stukkie bou hulle selfvertoue. Brinkie is kort, klein en fiks en ideaal vir die volgende stap, die Lugmagkollege!

“Goeie môre here, sal u asseblief u sitplekke in neem?” Hulle glo hul ore nie!

Brinkie voltooi sy kursus en word uitgeplaas na 35 Eskader, DF Malan Lughawe, Kaapstad.

"Brinkie speel jy skaak?” die eerste bevel en hy word in die navigators se span opgeneem. As ons vlieg mag jy mos nie darts gooi nie ...

Gou deel van die groep, dag en nag op diens, die basis word 'n naweek nag deur 'n bende aangeval, net drie om te verdedig, Brinkie skiet al twee magasyne leeg, die skerwe van die wattel boom spat in sy gesig toe hulle koeëls dit tref ...

Hulle lê snags op die witstreep as die Boeing 707 opstyg en speel chicken wie eerste weghardloop. Hulle vlieg na verre lande, “Brinkie, praat jy Portugees? Jy bleddie gou leer wat ons gaan nou twee weke in Luanda bly en jy het nie ʼn idee oor hoe die girls daar lyk nie!”

Hulle behoort almal aan die Ysterplaat NG Kerk se kerk jeug vereniging want Dinsdagaande is dit tyd om die girls op te chat.

Die koue oorlog word erger, hulle vlieg tot twintig ure op ʼn keer, die vier Rolls Royce Griffons grom gerustellend op die vlerke, een gaan dit seker nie maak nie, maar ons kan oor die weg kom twee, Brinkie sien die fregat, die rooi hamer en sekel waai in die Suidoos, die lugafweer kanonne volg hulle, hulle is bang, baie bang.

Die Kolonel Lombard is die baas en eintlik dierbaar, weet niemand mag van die Koreaanse oorlog praat nie, hy was vir twee jaar daar die krygsgevangene kamp ... 

Alles kom tot ʼn einde en dis 40 days.

“Brinkie kom fokkenwil gou hier,” beveel die kolonel, “en maak die donnerse deur agter jou toe ... ek hoor jy gaan weg?”

“Ja kolonel, my diensplig maak volgende maand klaar.”

“Nou wat gaan doen jy dan?”

“Ek gaan universiteit toe, kolonel.”

“Is jy fokken van jou verstand af? Is jy fokken mal?” skreeu hy, “Fok uit my kantoor uit!”

Die verskrikte Brinkie loop uit en verstaan nie wat gebeur nie.

”Brinkie, kom kuier gou hier man,” vra die kolonel die volgende môre, “Sit en teken net gou hier.”

Brinkie neem die pen en die papier, “Lugman Brink, hiermee word u permanent aangestel en onmiddelik bevorder tot tweede luitenant, geteken RC Hiemstra, Luitenant Generaal, hoof van die SA Lugmag.”

Hy dink lank ... maar sit die pen neer ... die kolonel sit met ʼn sakdoek in sy hand.

“Ou Brinkie, ek het geweet jy kan nie, ek het maar net gehoop jy dit dalk anders sou dink ..."

Hy is woordeloos, skaars neëntien, iemand glo in hom, iemand weet hy kan alles doen as hy moet. Hy staan op, sonder 'n woord, maak die deur oop.

"... en Brinkie ... dankie ..."

Om geslaan te word

(Waarskuwing: dis nie vir sensitiewe lesers nie, maar dit stuur af op ‘n gelukkige einde.)

Hulle het tot vandag toe ‘n invloed op wie jy en ek is. Meneer Krynauw, Meneer De Wet, Juffrou van Greunen, Juffrou Reitz..... Dan was daar Meneer Steenkamp ... Meneer Hanekom, Nico Hanekom.

Hy het van die Weskus gekom al die pad naVanwyksvlei, ek dink Moorreesburg, en het nooit die aksent afgeleer nie. 

Hy was so ‘n rooi ou en was met Tannie Elize getroud. Woon toe net langs die polisiesersant in die straat wat van die poskantoor af geloop het. Hy het met ‘n blou-grys Peugeot 303 gery en het boekhou, Afrikaans, tennis, atletiek en rugby aangebied.

In Standerd 4 het ons paaie gekruis: die houtwerkklas en rugby. Beide ‘n nagmerrie. Jy kan skaaf of jy kan nie, jy kan ‘n bal vang of jy kan nie. As jy beide nie kan doen nie, dan staan jy agter in die tou..

Ons geliefde meneer het aan my kom krap, jare later baie daaroor gewonder wat die rede moes  wees. Dalk dat hy altyd 2e moes kom teen “slimmer” mense. Hy het nie ‘n graad gehad nie. Dalk dat my ma ook daar gewerk het, wie weet ... maar op ouderdom 11 het dit pynlik gereeld na my gekom.

Die feit dat my broer amper so oud soos ek was en die oulikheid self is, het ook nie veel bygedra tot ons verhouding nie.

In standerd 5vyf en skaars twaalf jaar oud het dit sleg begin word en ek het teen hom begin rebelleer. Ons doen toe in die kerksaal liggaamsoefeninge, daardie dag was die kopwip die gekose marteling. Min ander in standerds 4 & 5 kon dit doen, ek natuurlik ook nie.  Toe ek soos ‘n sak sand oorrol toe sê hy, “Jy sal dit nooit reg kry nie, jy sal nooit soos jou broer wees nie”

Net daar verloor ek my humeur en stap na hom toe voor die verdwaasde kinders. Skree al my opgekropte woede op hom uit, “En wat daarvan? Hoekom pik jy altyd net op my? Wie dink jy is jy?!!”

Hy haak af en slaan my teen my linkeroor dat ek rol op die vloer. Ek staan op, loop tot voor hom, hande in die sye en gluur vir dertig sekondes.

Die rebellie word verder onderdruk deur ses van die beste in Meneer Morkel se kantoor.

My lewe verander. Ek is die held op die speelgrond. Kontrakteer vir die handige Louis Jordaan om my houtwerk se komplekse stukkies te doen in ruil vir die middag boekhou huiswerk. My houtwerk is die mooiste en altyd voor die ander klaar. "If you can not make it, then fake it!"

Hy los my uit, maar merk my boekhou en Afrikaans aggresief sleg. My hele motivering is om hom verkeerd te bewys en kry die beste punte van almal. Word die top atleet ... ok nou nie gewigstoot nie!

Die oorlog hou aan en aan ... ek vang hom selfs uit dat hy knoei met vraestelle, dit word my troefkaart en hy los my uit. Hy ignoreer my tot my vreugde op die rugbyveld en in die klas. Ek wys twee vingers na hom en kry net die A simbole, druk al die driee en word eenparig as atletiekkaptein verkies met goue medaljes vir alles in die interskole behalwe gewigstoot! Elke keer "mock" ek hom met my lyftaal ... hy haat my.

Krieket word verbied in Standerd sewe omdat dit met atletiek sou inmeng. Ek gaan dadelik en kry 'n klompie mede moeilikheidmakers en ons boul en kolf dwars oor die wegspringplek! Weer ses van die beste wat ek met 'n glimlag en luide toejuiging op die speelgrond ontvang.

Hy word my "common enemy", ek glo in myself en weet dat om klein, stadig, dom en lelik te wees jou nie hoef terug te hou nie.

Hoor swakker in die linkeroor, weet dit maar vertel myself dis nie waar nie.

Ons groet die onderwysers in standard ag. Ek loop eenvoudig by hom verby. Sien hom nooit weer nie. Dis 1968..




Dekades later, Saterdag 9 Oktober 2005, al 54 jaar oud en staan daar agter Koeëlkop ... kyk na sy graf ... en ek verstaan dit toe eers, verstaan dat alhoewel hy dit dalk nie so bedoel het nie, sy impak op my so wonderlik groot was, want maklik groot word gaan ons nie help nie, ons het die dwarsklappe nodig ...

ek het gehuil...