Saturday, June 6, 2015

Lewensredding



Dis die vroëe oggend ure. Ons rapsheet uiteindelik afgewerk en ek en Louis, my maat op vanaand se skof ry stadig op en af deur die verlate strate. Dit isDesember, die tyd wat ons die bangste voor is want tussen die bome gloei soms reflektors.

Ook vannag weer so, “Ag nee, net nie dit nie!”

Ons stop en stap versigtig nader, die tuinslang en die handdoek in die venster ... ons raak paniekerig. Sy leef nog, die enjin nog nie aangeskakel. Ons lig deur die venster, daar is trane op die 19 jarige se wange

Ek klop aan die venster, “Maak asseblief oop!

“Fok jou!!” gil sy terug.

Louis sê, “Jy kan maar sê ‘fok jou’, maar ons gaan nou op jou bonnet sit en rook tot dat jy oopmaak.”

Ons haal ons pette af, steek ʼn sigaretjie aan en wag. Die ruit gaan effens oop.

“Nou wat het gebeur?” vra ek.

“Fokkol met jou te doen!” skree sy terug.

“Het jou kêrel jou gelos?” vra Louis.

“Ja, maar fok jou weer ʼn keer!”

“Toe ek so oud soos jy was het my meisie my mos net so gelos toe ek Langebaan toe moes gaan ... ”

Die ruit draai verder af, “Rêrig en toe?”

“Stupid vraag, ek het gesuip natuurlik, gesuip met net een doel om my self vrek te drink”

“En toe?"

“Wel, een aand, lê ek net in my bed, toe klop iemand aan die deur. Dit was ons baas. Hy kom sit by my, hy het my hand gevat, ‘Ou Louis, jy moet nou slaap, net môre ry ek en jy saam en die keer gaan jy voor sit en alles doen!”

Toe ons daardie middag terug kom, het al die ouens en die mechanics hulle pette in die lug gegooi en net vir my ge-tjeer!”

Sy vra, “Wat doen jy dan nou?”

“Ek werk af en toe vir die polisie, maar daar is vandag 350 mense wat graag New York toe wil gaan. Ek gaan hulle neem, ek gaan weer heel voor sit ...”

Terwyl hulle praat, neem ek die tuinslang, die handdoeke en bêre in ons bakkie. “Kom, sit jy nou daar, Louis sal bestuur, ons moet jou na jou mamma toe neem, ek volg met die bakkie.”

By die huis brand al die ligte, ʼn man en vrou hardloop uit, rasend van bekommernis. Al vyf van ons staan styf teen mekaar, ons trane loop.

Die mamma kyk op, “Kyk net daar hoe mooi!”


Ver weg oor die Magaliesberg wys die eerste strale van ʼn nuwe dag ...

No comments:

Post a Comment