Op die
paadjie van die lewe kom daar uitdagings, soms maklik, soms moeilik en dikwels
wat ons bang maak. Dan is dit ware vriende naby ons al die verskil maak. Ook
die keer was dit weer oortreffend.
Baie dankie vir jou belangstelling, oproepe en boodskappe, die Cadburies
en Toblerone, die tydskrifte en mooi woorde, maar veral omdat jy ook gebid het.
Ons sal dit altyd onthou.
Toe die groot treetjie om weer te kan hoor. Hulle boor letterlik
in jou kop en plant ragfyn draadjies in. Alles neem tot drie ure.
Wonderlike mense het hul hele huis vir ons die week geskenk hier in die
Strand. Reg langs die hospitaal!
Dan was daar die wat die paadjie self moes loop, verhale van
kindersiektes en soos ek die oorlog en sy gevolge. Hulle vertellings en
ervaringe is prysloos kosbaar.
Dan is daar mos net twee plekke met die woord “Die” in sy naam. Hulle
twee kom toe Sondag van Die Paarl al die pad na Die Strand en neem ons vir ‘n
luukse noenmaal in ‘n grênd restaurant en ure se stories maak. Alles net om my
moed in te praat …
Wat gebeur het is oorlogskade en dan nog tien jaar in die Polisie. Toe
kom ‘n virus laas jaar en eet die senuwee op. Stokdoof in my goeie oor. Nou sit
hulle dun draadjies in die koglea, daai slakvormige dingetjie wat klank
verstaan en sny die oorskulp uit. Die gebeur ook met kinders en kindersiektes …
Beethoven en Edison was bykans stokdoof met waterpokkies en skarlakenkoors die sondebokke.
Maandag toe daar gekom weer baie vorms en voorlesings deur bekwame
susters en ‘n besoek van die sjirurg, wat weer van oor tot oor lag. Toe die net
so ‘n vriendelike narkotiseur (Het die ou al iewers gesien, weet dit net!) wat
net een ding wil weet, “Wat rook jy en hoeveel per dag?” Maak nogal sin as jy
dink dat die hospitaal, Mediclinic, aan ‘n sigaretbesigheid behoort!
Hulle trek mens dan so ‘n grysvaal jas aan en laai jou op ‘n trollie.
Die operasiesaal het tegnologie genoeg om op Mars te kan land en ‘n halfdosyn
susters skarrel heen en weer en weet presies wat hulle doen. Waarnemers is ook op
pad om die arme proefkonyn te aanskou.
Dit is dan wat die waarheid hom voordoen toe jy dit die minste verwag.
Die narkotiseur van net nou het ‘n helder blou kopdoek met stoute prentjies op! Almal
lag agter hul hande. Die waarheid kom net daar op die lappe dit kan mos net een
ou wees … Koos Kombuis!
Hy draai aan knoppies en grafieke flits oor skerms en alles verdof …
drie ure later sit die susters heerlik en stories maak langs die bed terwyl ‘n ou
probeer slaap. Kry mens reg vir ‘n lang nag in die kille plek. Ons vertel toe
vir die suster dat ons reg langsaan woon.
“Nou hoekom gaan jy nie net huis toe nie?” vra sy hoopvol om die nagskof
af te kry.
Min aanmoediging nodig en net daar in die rystoel na die voordeur! Alles
vir eers oor en na amper ‘n dag se vastyd lyk enigiets te aanloklik. Nou die
slegte nuus op die pil boksie, hulle kannie ernstig wees nie! Hier in die hartland
van goeie Cabernet staan dit swart op wit, ag nee man, “Geen alkohol vir die
volgende vyf dae!”
Die grootste skok was dat
die sjirurg linkshandig is! Dink net hoe meestervol moet hy wees om met die
regshandige gereedskap te moet sukkel!
Allerhande koplees
fotos gedoen en oor vier weke skakel hulle eers alles aan om dan weer te kan
hoor, Beethoven het dit geskryf na veertien jaar al heeltemal doof … “Die
neënde Simfonie.”
Ons is so dankbaar vir die genade,
dankbaar vir vriende soos julle. Die personeel van die sjirurg wat elke admin
treetjie maklik gemaak het, die een-van-‘n-soort Stellenboschse audioloog wat
alles raakgesien het, haar eweknie in Tygerberg wat net een woord voor is,
wêreldklas!
‘n Wonder vrou wat met
alles moet saamleef en saam die lang pad loop … want vanoggend hang die wit
Suid-Oos lieflik voor die opkomende son, die toneel iets vir Picasso, Van Gogh
en Rembrandt om oorboord mee te gaan.
Hier in die mooiste
amfiteater op aarde van Helderberg tot Hangklip staan dit staan dit duidelik geskryf
in die wolke, “Ek slaan my oë op na die berge …”
No comments:
Post a Comment